My ginne, die “medisyne” ontpop toe in ‘n klassieke jenewer!

Bossieveld Inspiration Gin
Great Karoo Spirit gin wins big
30th October 2019
Artikel in ‘Versnit’ 19 Feb 2020
19th February 2020
My ginne, die “medisyne” ontpop toe in ‘n klassieke jenewer

My ginne, die “medisyne” ontpop toe in ‘n klassieke jenewer!

Navorsing vir medisinale doeleindes met Karoobossies en kruie in haar agterplaas, het vir ‘n apteker van Pretoria, Louise van der Walt, uitgeloop op die vervaardiging van ‘n top-jenewer.

Die jenewer, Great Karoo Spirit se Bossieveld Inspiration Craft Gin, is op vanjaar se Michelangelo- wyn- en spiritiualieëkompetisie bekroon met ‘n dubbelgoud-medalje. Altesaam 124 jenewers is ingeskryf: byna dubbel soveel as verlede jaar.

Omdat aptekerswese haar passie is, het Louise, mede-eienaar van Great Karoo Spirit, sowat ses jaar gelede op die familieplaas Vaaljasfontein in die Venterstad-distrik begin om navorsing te doen oor die medisinale eienskappe van Karoobossies en kruie wat sy geplant het. “‘n Mens kan maar sê bossies is in my bloed: as kind het ek selfs ‘n ‘laboratorium’ in my slaapkamer gehad!”

Gewapen met haar kennis van aptekerswese, ‘n diepliggende liefde vir die Karoo en emmersvol toewyding, het sy bossie na bossie en krui op krui gepluk, gekneus, gekook, gedistilleer, gemeng, getoets en ontleed.

“Ek het alles van smeermiddels tot tee en homeopatiese druppels gemaak. Toe, op ‘n dag, het ek sommer vir die pret graangebaseerde wodka met ‘n ekstrak van aromatiese bossies gemeng en dit vir my vriende aangebied. Dit was met die intrapslag ‘n wenner!”

Dit was toe dat ‘n vriend, Ian Goss-Ross, vandag uitvoerende hoof van Great Karoo Spirit, haar omgepraat het om haar jenewer te verfyn en saam met hom in grootmaat te produseer.  Louise het ‘n kursus in distillering gevolg en siedaar, Bossieveld Craft-jenewer was die uitvloeisel!

Ian wys daarop dat alle “rasegte” jenewers neutrale wodka, jenewerbessies, en ‘n verskeidenheid van speserye en kruie bevat. ““Ons geheim is Louise se intieme kennis van die aromatiese Karoobossies.  Dit het gelei tot ‘n botaniese kaleidoskoop van klassieke, komplekse en kosmiese aromas en smake.” 

Great Karoo Spirit se produkte word by De Vry Distillery in Oranjeville gedistilleer en gebottel. De Vry se eienaar, die bobaas-kok Pasch du Plooy, was betrokke by die ontwikkeling van die Inspiration-resep, met Ian Goss-Ross wat aan die spits staan van die bemarking, verspreiding en verkope. Bossieveld Craft-jenewer is beskikbaar in 750 ml- en  500 ml- groottes, asook ‘n parmantige 50 ml-buksie.

“Bossieveld het met die Michelangelo-toekenning gewys dat ons kan meeding met die beste jenewers in die land,” sê Ian. “Hulle sê suksesstories het gewoonlik ‘n beskeie begin, wat beslis die geval is met Bossieveld-jenewer.”  

Ian verduidelik dat die Suid Afrkaanse mark nogal ‘n sterk invloed het op die Craft Gin vervaardigers.  “Verbruikers is deesdae meer bewus van ‘n goeie jenewer se eienskappe.  ‘n Goeie jenewer het verskillende komponente met sterk jenewerbessie. Saam met die ander speserye en kruie, toon dit ‘n komplekse, maar goed-gebalanseerde aroma en geurprofiel.  As ‘n jenewer kleur het en nie helder soos byvoorbeeld “London Dry” is nie, moet dit ‘n natuurlike kleur van een of meer van die botaniese komponente wees. Daar is te veel jenewers op die mark wat doodeenvoudig kunsmatige geure en kleurbyvoegings bevat.” 

Wanneer sy oor haar “bossie-vriende” praat, word Louise skoon meegevoer. “Die Karooplante se name is net so oulik as wat hulle chemie ingewikkeld is. Meidtjie-willemse. Sewedae-geneesbossie. Ghoenoe. Volstruistone. Eendpootbossie. Hoenderkloek. Akkedisstert. Dawidjies-wortel. Ouma-se-kappie. Gansmis.

“Ek sien Kaatjie-drieblaar selde, maar is altyd op die uitkyk vir haar. Dit is hierdie vriendinne van my wie se parfuum my daagliks laat nader staan. Toe ek ‘n boesman-grouklip die eerste keer ontdek, was dit onder Kaatjie-drieblaar. Daardie onthou is onlosmaaklik met die plantjie se geur verbind.

“Goedkaroo is die sout van die aarde, die staatmaker van die bossieveld. Hy is ‘n hardwerkende bossie met vrolike geel knopies. Hy sukkel deur die droogte, maar kom altyd heelhuids anderkant uit en help die veld met sy uitgebreide ankertjies om teen erosie vas te skop.”

Planne vir die toekoms is om nuwe geure te ontwikkel en “maatjies” vir die jenewer te skep, soos aperitifs met ‘n rum-basis. Daar is ook ander moontlikhede wat nog nie behoorlik ontgin is nie, soos om seep of kaasprodukte met karoobossies te geur.

Hoewel sommige ander jenewers ook met karoobossies gedokter word, is die bossies wat vir Bossieveld se Inspiration gebruik word, volgens Louise uniek. En watter bossies sou dit wees?  “Daardie aap gaan ek nie uit die mou laat nie,” lag sy.  “Selfs al weet jy watter bossies die wonderlike eienskappe aan ons jenewer gee, is die proses en samestelling daarvan ‘n lang ontwikkelingsproses.” 

We use cookies to ensure that we give you the best experience on our website.