Bossietaal

Great Karoo Spirit Bossie Veld Gin
Bossie Vriende
8th Mar 2018
Great Karoo Spirit Bossie Veld Gin

Praat jy bossietaal?

Ry jy deur die Karoo asof dit n noodsaaklike pyniging is om by jou bestemming uit te kom, of praat jy bossietaal?

‘n Vriendin van my vra onlangs: ‘Wat is nou die bossies waaroor jy so tekere gaan? Bossies is iets wat jou tuinman moet uittrek en verbrand, weggooi en verduister.’ Sy praat nie bossietaal nie.

Op Vaaljasfontein staan jy vroegoggend op net om in die veld te gaan stap en n paar karoobossies plat te trap. Daai trapslag laat malse geure vry wat herinner aan jare se vroegoggend koffie op die stoep. Die roomafskeier se ritmiesese tjieng tjieng en die melkkoeie se sagte moeeee. In Karooveld stap jy kop onderstebo op soek na die volgende bossie waarvan jy die tintelinde geure tussen jou vingers kan los vryf. Ken jy die taal en aromas van somerreën op parmantige en eiesinnige karoobossies? Karoobossie kraak ook mos anders onder jou stapskoene. Dit gee tekstuur en dimensie aan veldstap.

Ankerbossie, Kwarriebos, Ghanna en Voëljie-kan-nie-sit-nie. So ryk en digterlik soos die name is die geure van hierdie onontdekte skatte. ‘n Landboukundige van Middelburg vertel my dat die bossies se aromas wissel afhangende van die reën, die seisoen en die bossie se eie ‘lus’. Met die maak van Bossieveld gin het ons besluit om erkenning te gee aan hierdie tipiese Karoo- eiewilligheid en het ons n oesdatum op die bottel aangebring. Selfs die beroemde Karoolammers is nie altyd lus vir dieselfde bossies nie. Dan verskil die smaak ook nog van streek tot streek - soos bossietaal dialekte!

Dit is algemeen bekend dat karoolam sy unieke smaak aan karoobossies te danke het, maar selfs die smaak van koeimelk word hierdeur beïnvloed. Sekere tye raak die melk van koeie wat op bossieveld gewei het so wild dat die oningeligte bossie analfabeet sal steier. Ek het nog altyd gewonder wat se tipe gruyere kaas hierdie melk sal maak.

Ek verneem dat selfs die mossies selektief geurige bossieboumateriaal vir hul nessies uitsoek. Dink net, permanente kamerverfrisser wat sommer ook vlooie en luise weg hou. As laaste afronding pluk hulle dan die kapokbos se sagte wolletjies en lê hulle matte daarmee. Mossie maar man. Hy praat ook bossietaal.

Kankerbos, Sewedae-geneesbossie, Gansogies en Kriebos. Vele van die aromatiese plantjies het genesende eienskappe. En dit is nie net volkskennis nie maar ook goed nagevorsde feite. Dit bevat magiese bestanddele met slim klinkende name soos terpenoids en sesquiterpene. Sommige hiervan kom eksklusief in karoobossies voor. Die Khoi het hulle beddegoed gemaak van n karoobossie, Kooigoed, wat hulle teen katelgoggas beskerm het. Vandag is essentiële olies van Kooigoed ‘n gesogte uitvoerproduk met eienskappe soortgelyk aan Teatree olie. Ander karooplanjies met voetspore op die apteekrak is Kankerbos, Kougoed en Wilde-als. Wilde-als verteenwoordig van die oudste bekende medisinale plant. Dit word self in die Bybel genoem.

Riette van Garingboom gasteplaas naby Bethulie is n bossietaal ekspert. Sy het n staproete op die plaas wat naambordjies het om van die bossies uit te wys. Vir die bossietaal student is dit n uitstekende begin.

Bossietaal weet ook van skoene uitskop en ontspan. In my toere van Karoo gasteplase het ek op n hele paar bossies afgekom wat genoem word Boesmantee. Op die gasteplaas naby Nieue Bethesda het ek n Boemantee getrek van ‘n bossie wat net soos Ceylontee smaak. In die Venterstad distrik het Marene van Morning Glory Cottages vir my Boesmantee gemaak van n heel ander bossie.

In Cradock vertel n Khoi afstammeling my van n bossie wat hulle gebruik om Boesmanbier van te maak. Ongelukkig kon ek nog glad nie uitvind wat die naam van hierdie bossie is nie. Sue Dean van Renu Karoo het my egter vertel van n klein vetplantjie wat deur die trekboere gebruik was om gis te produseer vir die bak van brood. Moontlik is dit ook hierdie plantjie wat Boesmanbier maak.

Op my erf in Pretoria lê n hoop bossies waaruit geure gedistilleer en ge-ekstraeer is. Hulle het hulle deel bygedra tot die gin graze maar hulle praat steeds hulle moedertaal. As dit reën ruik my hele erf na Karoo. Soet somerreën Karoo. Die bossies wat n jaar gelede gedroog is word groen en hulle gesels.

Karoobossies is die helde van Bossieveld gin. Kyk mooi na die lotnommer op elke bottel. Die bossies het houding. Is dit gemaak van die eerste spriete groei na n lang droogte of van die blasé takkies na dae se aanhoudende reën. Kom dit van Gelykfontein of van Jakkalsfontein? Het dit gulsige skaap kake ontglip of welig gegroei waar beeste hul neuse daarvoor optrek? Hierdie bossies gin verouder nie op eikehout nie maar op sy eie essensie. Dit versag en vermeng in die bottel. As jy dit kan uithou om Bossieveld gin te laat staan vir n paar jaar sal jy beloon word met karakter en groei wat uniek is vir elke lotnommer.