Bossie Vriende

Great Karoo Spirit Bossie Veld Gin
Bossietaal
23rd January 2018
Great Karoo Spirit Bossie Veld Gin

Bossie vriende

Om goeie vriende te hê is n kosbare gawe. Om goeie vriende te behou beteken gedeelde tyd en gedeelde stories. Saam beweeg en skouers skuur.

So gaan dit ook met my bossie vriende. Ek sien Kaatjie-drieblaar selde, maar is altyd op die uitkyk vir haar. Dit is hierdie vriendinne van my wie se parfuum my daagliks laat nader staan. Daai geure wat net met reën en aanraking ou herinner stories kommunikeer. Die eerste keer wat ek n boesman grouklip ontdek het, was dit onder Kaatjie-drieblaar. Daardie onthou is onlosmaaklik met die plantjie se geur verbind.

Goedkaroo is n hardwerkende bossie met vrolike geel knopies. Hulle sukkel deur die droogte en kom altyd anderkant uit. Help die veld om vas te skop teen erosie met hulle uitgebreide ankertjies. Goedkaroo of soos baie dit noem, Ankerkaroo, is die sout van die aarde, die staatmaker van die bossieveld. So is hulle vrienskap ook.

Die name van Karooplante is net so oulik as wat hulle chemie ingewikkeld is. Meidtjie-willemse. Sewedae-geneesbossie. Ghoenoe. Volstruistone. Eendpootbossie. Hoenderkloek. Akkedisstert. Dawidjies-wortel. Ouma-se-kappie. Gansmis.

Ek wens ek kon in my kop n databasis skep wat die bossies se geure onmiddellik verbind met hulle name. Dan sou ek deur die maanlig veld kon loop en name opsê soos wat my tekkies die bossies tref. Vaalkaroo en Ghannabos. Vergeet-my-nie en Wag-n-bietjie.

Karoobossies is ook voël vriende. Die Karoospekvreter bou graag sy nessie onder die beskerming van n bossies. Op die grond met takkies en blare. Hierdie slim voëljies bou hul nessies sodat dit suid of suidoos front om die maksimum skaduwee van die bossie-gazebo te benut. Hulle vind ook hul insekhappies tussen die bossies en graspolle.

'n Ander geveerde bossievriend is die Kaapse Klappertjie. Hulle is skamerige voeltjies buiten wanneer hulle weet daar kom reën. Dan show hulle groot af. Daar is selfs videos op youtube hiervan. Hierdie geluid is vir my so tipies van die Karoo hartland dat ek half in afwagting daarvan deur die veld stap. Dit is n lang tweeeeeeet en klap-klap van die vlerkies soos hy afduik grond toe. Ek is seker dit is die afwagting van bossie geure na die somerreën wat hom so uitbundig maak.

Net so roep die bossiegeure van Bossieveld gin by my vele Karooherinneringe op. Ek ruik eers daaraan, maak my oë toe en laat die onthou spontaan na vore kom. Mystique roep vroeë oggend op. Warm Koffiehuiskoffie met anysbeskuit. Mossies wat politiek kwetter in die bloekomboom en die son wat net net sy kop bo die Bobbejaanberg uitsteek.

Inspiraton ruik na soel someraande onder helder sterre. Die geluid van sagte wind in die bloekoms en kerslig wat deur die venster roep. Dit is ook laatmiddag se bossie geure na lang warm somerson. Sonsondergang kleure waarin helder blou vermeng met warm rooi en oranje. Melksnysels met baie kaneel en sagte stemme wat toelaat dat die krieke en paddas botoon voer.

Die Bossieveld roep met die stem van verlange en kleintyd herinneringe. Ou vriende en groot kuiers.

We use cookies to ensure that we give you the best experience on our website.